Afrikaans Bible

LUKAS 19

DIE EVANGELIE VOLGENS LUKAS

Return to Index

Chapter 20

1

En op een van die dae, terwyl Hy besig was om die volk in die tempel te leer en die evangelie te verkondig, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes saam met die ouderlinge by Hom staan,

2

en hulle spreek met Hom en sê: Vertel ons deur watter gesag U hierdie dinge doen, of wie dit is wat U hierdie gesag gegee het?

3

En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra -- sê vir My:

4

die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense?

5

Toe het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel -- sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?

6

En as ons sê: Uit mense sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is.

7

Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waarvandaan nie.

8

En Jesus sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.

9

Toe begin Hy aan die volk hierdie gelykenis te vertel: 'n Sekere man het 'n wingerd geplant en dit aan landbouers verhuur en vir 'n geruime tyd op reis gegaan.

10

En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle hom van die vrug van die wingerd sou gee. Maar die landbouers het hom geslaan en met leë hande weggestuur.

11

En hy het weer 'n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en skandelik behandel en met leë hande weggestuur.

12

En hy het weer 'n derde gestuur, en hulle het ook hierdie een gewond en uitgedryf.

13

Toe sê die eienaar van die wingerd: Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur; miskien sal hulle ontsag hê as hulle hom sien.

14

Maar toe die landbouers hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, sodat die erfdeel ons s'n kan wees.

15

En hulle het hom uit die wingerd gewerp en hom doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd dan aan hulle doen?

16

Hy sal kom en daardie landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. En toe hulle dit hoor, sê hulle: Nee, stellig nie!

17

Maar Hy het hulle aangekyk en gesê: Wat beteken dan hierdie Skrifwoord: die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword?

18

Elkeen wat op die steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, die sal hy vermorsel.

19

Toe probeer die owerpriesters en die skrifgeleerdes in daardie selfde uur om die hande aan Hom te slaan, maar hulle het die volk gevrees; want hulle het geweet dat Hy hierdie gelykenis met die oog op hulle self uitgespreek het.

20

En hulle het Hom in die oog gehou en spioene gestuur wat geveins het dat hulle regverdig was, sodat hulle Hom op 'n woord kon betrap, om Hom oor te lewer aan die owerheid en aan die gesag van die goewerneur.

21

En hulle het Hom gevra en gesê: Meester, ons weet dat U reguit praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die weg van God in waarheid leer --

22

is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?

23

Maar Hy het hulle listigheid bemerk en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My?

24

Wys My 'n penning. Wie se beeld en opskrif het dit? Hulle antwoord en sê: Die keiser s'n.

25

Toe sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.

26

En hulle kon Hom nie voor die volk op 'n woord betrap nie, en verwonderd oor sy antwoord het hulle geswyg.

27

En sommige van die Sadduseërs het gekom -- hulle wat ontken dat daar 'n opstanding is -- en Hom gevra

28

en gesê: Meester, Moses het ons voorgeskrywe: As iemand se getroude broer sterwe en hy sterf sonder kinders, dan moet sy broer die vrou neem en vir sy broer kinders verwek.

29

Nou was daar sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en kinderloos gesterwe.

30

En die tweede het die vrou geneem, en hy het ook kinderloos gesterwe.

31

En die derde het haar geneem; en net so al sewe. En hulle het geen kinders nagelaat nie en het gesterwe.

32

En ten laaste het die vrou ook gesterwe.

33

In die opstanding dan, wie van hulle se vrou sal sy wees? want al sewe het haar as vrou gehad.

34

Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee;

35

maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie.

36

Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is.

37

En dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.

38

Hy is tog nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom.

39

En sommige van die skrifgeleerdes antwoord en sê: Meester, U het goed gespreek.

40

En hulle het Hom nie meer iets durf vra nie.

41

Toe sê Hy vir hulle: Hoe is dit dat hulle sê dat die Christus die seun van Dawid is?

42

En Dawid self sê in die boek van die Psalms: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand

43

totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete.

44

Dawid noem Hom dan Here, en hoe is Hy sy seun?

45

En terwyl die hele volk luister, sê Hy vir sy dissipels:

46

Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van die begroetinge op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye.

47

Hulle eet die huise van die weduwees op en doen vir die skyn lang gebede. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.

LUKAS 21

 

 

 

HTMLBible Software - Public Domain Software by johnhurt.com

 


Other Software is Available At These Sites: